Onontbeerlike faktore van Herlewing

Geskryf deur Jonathan Goforth. Gepos in Geskrewe Preke

’n Sendeling het eens op ’n tyd verskonend teenoor my opgemerk, “Ek het nog altyd na herlewing gesmag, maar my sendingstasie is so afgeleë, dat dit vir my onmoontlik is om die dienste van ’n evangelis te bekom.” Asof die werking van die Gees van God net tot ’n paar uitverkorenes beperk is! Enige groep soekende Christene kan die volle seën van Pinkster ontvang. Maar is ons reg om Hom te ontvang? Het ons genoeg waardering vir die Gewer en die gawe?

 

Gebed

Die geskiedenis van herlewing bewys duidelik dat die meeste bewegings van die Gees by gebed begin. Die Bybel vertel ons nie veel van wat tussen die Here se hemelvaart en Pinksterdag in die Bovertrek in Jerusalem gebeur het nie, maar ons kan redelik seker wees dat die klein groepie dissipels ontevrede was met elke oomblik wat hulle nie op hul knieë deurgebring het nie. Daar was so baie waarvan hulle ontslae moes raak, so baie belemmerende dinge wat neergelê moes word, so baie goud wat gesuiwer moes word, so baie onsuiwerhede wat verteer moes word. Ons weet ook dat alle daaropvolgende uitstortings van die Gees met gebed verbind kan word.

“…die plek waar hulle bymekaar was, (het) geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig” (Handelinge 4:31).

Die kragtige geestelike oplewings in die tyd van die Hervorming kan nie van die invloed van gebed geskei word nie. Daar word gesê dat Luther enigiets van God kon kry waarvoor hy gevra het. Mary, die Skotse Koningin het ’n groter vrees vir die gebede van John Knox gehad, as vir al die weermagte van Engeland. Die kragtige beweging van die Gees wat in 1727 eensgesindheid onder die Morawiërs by Herrnhut gebring het en hulle verander het in wat die magtigste evangeliese krag oor die afgelope paar eeue in die wêreld was, is in gebed gebore. Biskop Hasse het gesê, “Was daar ooit in die hele kerkgeskiedenis so ’n verstommende gebedsbyeenkoms soos die wat in 1727 (by Herrnhut) begin het en wat vir ’n honderd jaar voortgeduur het? Dit is iets totaal unieks. Dit was bekend as die Uurlikse Intersessie,” en het beteken dat broers en susters afwisselend tot God gebid het vir al die werke en behoeftes van Sy Kerk. Gebed van hierdie aard lei altyd tot reaksie. In hierdie geval het dit ’n brandende begeerte ontvlam om Christus se verlossing aan die heidendom te verkondig. Dit het gelei tot die aanvang van hedendaagse buitelandse sending. Meer as een honderd sendelinge het in vyf-en-twintig jaar vanuit daardie een klein dorps-gemeenskap uitgegaan. Ons sal tevergeefs op enige ander plek soek na iets soortgelyks wat dit ewenaar.

Maar is daar enige rede waarom die Morawiese beweging nie vandag geëwenaar kan word nie? Is dit nie onwaarskynlik dat die Ewige Gees moeg geword het nie? Ons kan verseker daarop staatmaak dat die seëning vir ons wag, as ons maar net op ons knieë wil gaan en daarvoor wil vra.

Die mees treffende fase van die Wesleyaanse beweging is waarskynlik die klem wat hul leiers op gebed gelê het. Dit was ’n vaste gewoonte dat hulle van vier tot vyf in die oggende en van vyf tot ses in die aande gebid het. Groot figure soos William Bramwell het egter die helfte van die nag in gebed spandeer en sou later soos ’n brandende vuur deur die gemeente beweeg. Wat sou gebeur indien die miljoene Metodiste vandag gebed maar so hoog geag het soos wat hulle voorouers dit gedoen het?

Finney het meer op die gebede van vaders Nash en Clary staatgemaak om ’n Heilige Gees Herlewing teweeg te bring as op sy eie onverbiddelike logika. Ons is vandag so gewoond aan die Laodiceese toestand van die Kerk dat ons verbaas staan oor die allesdeurdringende invloed van gebed soos in Finney se tyd. Dink jou in hoe veertig predikante en sendelinge as gevolg van gebed gedurende een herlewing in ’n Rochester hoërskool in die Here se oeslande ingestoot word.

In 1858 het Spurgeon sy groot gemeente byeengeroep en gesê: “Nou red die Gees van God menigtes in die Verenigde State. Aangesien God geen aannemer van die persoon is nie, sal ons bid totdat Hy soortgelyke strome van seën oor ons land uitstort.” Die kragtige 1859 herlewing was die antwoord.

Kort voor die groot herlewing in die vroeë jare twintig, is drie honderd ekstra gebedsgroepe in die suide van Wallis gestig. Trouens, Wallis was soos een groot gebedsbyeenkoms. Wat was die gevolg? Sewentig duisend mense het hulle binne twee maande na die Here gewend.

In 1902 het twee dames sendelinge van die Khassia Hills Sendingstasie te Kalkutta na ’n toespraak oor gebed, aangebied deur Dr. Torrey, geluister. Hulle was so ontroer daardeur dat toe hulle na hul eie mense teruggekeer het, gebed hulle een tema was. Die gevolg was dat teen die lente van 1905, die Khassiërs oral gebid het. In daardie deel van Indië is binne ’n paar maande meer as agt duisend mense tot die Kerk toegevoeg.

Eweneens was dit toegewyde gelowige gebed wat so deel was van die herlewing waar vyftig duisend Koreane in 1907 tot Christus gebring is. Ek is oortuig daarvan dat al die bewegings van die Gees in China ook met gebed in verband gebring kan word. Na een besondere hartroerende reeks byeenkomste het ’n sendeling teenoor my opgemerk: “Aangesien die Here so baie met ons bietjie gebede gedoen het, wat sou Hy nie gedoen het as ons gebid het soos ons moet nie?”

’n Groot evangelis is eenkeer gevra: “Wat is die geheim van herlewing?” Hy het geantwoord, “Daar is geen geheim nie. Herlewing kom altyd in antwoord op gebed.”

Die Woord van God

Ons doen die Outeur van die Bybel groot oneer aan omdat ons Sy Woord in twyfel trek. Tensy ons die Bybel as absoluut die Woord van God aanvaar, kan ons gebede niks anders as algehele bespotting wees nie. Daar het nog nooit herlewing plaasgevind behalwe, waar Christen mans en vroue deur en deur geglo het in en met hart en siel die beloftes van God afgepleit het nie.

Die enigste wapen wat al ooit kragtig in herlewing gebruik is, is die Swaard van die Gees, wat ook die Woord van God is. Waar die Woord van God ontvang is vir dit waarop dit aanspraak maak, was dit nog altyd ’n skerp tweesnydende swaard, soos vuur en soos ’n hamer wat ’n rots in stukke breek.
Toe Luther die Heilige Skrif in Duits vertaal gekry het, was die land verlore vir Rome. Moody het nie skoolgeleerdheid gehad nie, maar hy het sy Bybel geken en dit mag wees dat die wêreld nog nooit sy gelyke as apostel van siele gesien het nie.

Gedurende die laat Mantsjoe dinastie is dit van geleerdes verwag dat hulle die klassieke werke van hul wysgeers uit hul kop moes ken. Hoe voldoen die geleerdes van sogenaamde Christen lande aan die standaard betreffende die “wêreld se groot klassieke werk”? Is dit nie niks minder as pateties hoe so baie daarop aanspraak maak dat hulle die Here Jesus Christus verteenwoordig nie, maar hulle weet so min van Sy Woord.

Dertig jaar gelede was die bedieningsideaal dat jy jou Bybel so goed moes ken dat dit nie nodig was om ’n konkordansie rond te dra nie. Is so baie predikante se afsydigheid teenoor die Bybel vandag nie as gevolg van die feit dat hulle ’n beter manier ontdek het om in die behoeftes van ’n sondige-siek wêreld te voorsien nie?

Jesus Christus

Die oproep na herlewing moet ’n oproep wees om Jesus Christus in ons harte te verheerlik as die Koning van die konings en die Heer van die here. Soos die Everest bergpiek verrys Hy uit die gelyke vlaktes. As ons Hom hoegenaamd by ons wil laat woon, moet daar vir Hom alleen plek wees. Elke afgod moet vernietig word, elke geliefde Isak moet op die altaar neergelê word, elke drang van selfsug moet verloën word.

Van die groot Moslem krygsman Malmoud word gesê dat hy tydens sy oorwinningstogte deur die noordelike dele van Indië die gewoonte gehad het om alle afgode wat in sy hande geval het, te vernietig. Uiteindelik het hy die stad Guggeratt bereik waar die mense baie waarde aan een spesifieke afgod geheg het. Die vernaamstes van die hooggeplaastes van die stad het na die generaal gegaan om by hom te smeek om die afgod te spaar. Hy kon doen soos hy wou met al die ander afgode, maar as hy die een sou vernietig, kon hulle maar net sowel ook gesterf het.

Hulle het met sulke heftigheid by hom gepleit dat die hart van die veroweraar geraak is. Dit sou meer as gevoelloos wees indien hy die arme mense van dit ontneem wat vir hulle skynbaar ’n saak van lewe en dood was. Toe het hy sy eed onthou om geen afgod te spaar nie. Die wil van Allah was duidelik. Hy het versoek dat ’n hamer na hom gebring word en het die afgod ’n geweldige slag toegedien. Tot sy verbasing het strome juwele en edel-gesteentes uit die bars van die afgod gestroom. Die mense het hulle skatte in die beeld versteek en gehoop om die veroweraar so te ontroer dat hy sou afsien daarvan om dit te vernietig. Dink net, wat sou sy verlies gewees het as hy nie die laaste afgod vernietig het nie.

Was daar ooit so ’n weergalose geleentheid vir Christen leiers om van ekklesiastiese afgode af te sien en hulself in sielekontak met die verborge skatte van Christus te bring soos by die Sending Konferensie in 1910 in Edinburg? Sendingleiers het van alle wêrelddele gekom. Baie het hoopvol vertrou dat ’n nuwe tydvak in sending aangebreek het.

Die laaste dag se tema was “Die Tuis Basis”. Visies van eindelose moontlikhede is aangewakker. Deur ’n magtige Heilige Gees herlewing sou huiskerke in staat gestel word om mense wat so bekwaam soos Paulus en Barnabas was, uit te stuur. Met hul geweldige hulpbronne in mense en vermoëns, sou die wêreld in een generasie ge-evangelieseer kon word.

Helaas! Dit was net ’n droom. Ek het nog nooit sulke deurdringende pyn en teleurstelling ervaar soos daardie dag nie. Van al die mense wat die groot sendingvergadering toegespreek het, het nie meer as drie God die Heilige Gees as die een noodsaaklike faktor in wêreld evangeliesasie beklemtoon nie. Soos mens daardie dag na die toesprake geluister het, sou jy die afleiding kon maak dat om die evangelie aan ’n verlore mensdom te bring, grootliks ’n saak van beter organisering, beter toerusting en meer mans en vroue was. Daar was seer sekerlik nie ’n gebrek aan tekens dat nog ’n paar vonkies ’n ontploffing sou laat losbars het nie. Maar nee, die afsetting van die ekklesiastiese self-onderhoudendheid was blykbaar ’n te groot prys om te betaal.

Maar broeders, die Gees van God is steeds met ons. ’n Uitstorting van die Gees is vandag steeds moontlik. As herlewing van ons weerhou word, mag dit wees dat ons nog steeds daarop aandring om ons vertroue in menslike planne te plaas, omdat ons steeds weier om die onveranderlike waarheid te aanvaar dat “nie met mag en krag nie, maar deur my Gees” (sien Sag.4: 6).
Geneem en vertaal uit By my Spirit deur Jonathan Goforth. Publieke gebruik.