Sendbrief Aan Die Romeine

Geskryf deur Pieter Scholtz . Gepos in Geskrewe Preke

DIE SKRYWER:  Deur die apostel Paulus (Latyns "klein een"), vanaf Korinthe, in 58 A.D., aan die einde van sy 3de Sendingreis en teen die einde van sy drie maande verblyf in Korinthe. (Hand.20:1-6). Die brief is deur Fébe, die vroulike diakones, na Rome geneem.

DOEL VAN SKRYWE:  Namate die verkondiging van die Evangelie al wyer uitgekring en die aantal gelowiges onder Jode EN Heidene toegeneem het, het daar belangrike vrae en 'n mate van onsekerheid ontstaan oor sekere aspekte van leerstellige beginsels, onderlinge nasionale verhoudinge en ander lastige probleme rondom die Evangelie.

Groter duidelikheid en meer sekerheid was nodig - veral m.b.t. die rol wat die WET nog gespeel het in verdienste tot regverdigmaking (vryspraak) wat, volgens die Evangelie, alleen deur geloof en genade verkry kon word. Ook watter betekenis die Verbond van God met Abraham, die voorvader van die Jode, gehad het m.b.t. die moontlike in- of uitsluiting van ander nasies daarby. Watter verband was daar tussen die Evangelie en die wet van Moses, en watter waarde, rol en betekenis het die wet nog as God dan in vryspraak en vrymaking met die mens alleen op grond van geloof en genade sou handel? Beteken GENADE dan nie miskien dat God meer toegeeflik teenoor sonde word nie, wat dan juis die oortreding/verbreking van die wet sou aanmoedig?

Die EEN MAN wat vanweë sy agtergrond, kennis, ondervinding en geestelike toerusting, volkome toegerus was om al hierdie dringende vrae gesaghebbend te beantwoord, was die Apostel PAULUS!  Die Sendbrief aan die Romeine is die mees omvattende, deeglik fundamentele leerstellige dokument van die Nuwe Testament! Goddelik geïnspireer en behoorlik deur die Heilige Gees toegerus het Paulus, met intense toewyding en konsentrasie, daarin geslaag om met meesterlike logika en onweerlegbare dogma die hooftema van GEREGTIGHEID van alle kante te beskou, te ontleed en die werklike betekenis en toepassing daarvan vir ons te beskrywe. SONDE, OORDEEL, VRYSPRAAK, VRYMAKING, GEES, SOEWEREINE OPPERMAG en DIENS, is die SEWE groot temas wat GEREGTIGHEID progressief in die Sendbrief laat skitter en deur God se groot verlossingsplan in werking stel!

Op 24 Mei 1738 het 'n uiters mismoedige sendeling, John Wesley, wat bekering aan die Indiane van Amerika gaan verkondig het sonder dat hy self die sekerheid van sondevergifnis gehad het, as 'n ‘mislukking’ na Engeland teruggekeer. Baie teësinnig het hy 'n kerkdiens in Aldersgatestraat, London, bygewoon. Terwyl hy geluister het na 'n voorlesing van Martin Luther se inleiding tot sy kommentaar oor Romeine, het die lig van vryspraak en lewe deur die geloof (1:7), skielik vir hom helder deurgebreek, waarná hy kon getuig: "my heart became strangely warmed!" Daarná was hy, saam met sy broer Charles en George Whitfield, God se magtige instrumente tot herlewing in die Britse Eilande! Martin Luther het gesê, "ROMEINE is die HOOFBOEK van die Bybel en dit behoort woord vir woord deur elke Christen geken te word!"

·    INDELING EN BOODSKAP
 
·     INLEIDING: 1:1-17  "DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS."   TEMA:  “GEREGTIGHEID” :
·    
·    1.  GEREGTIGHEID VEREIS: Die sondaar in sy verlore, doemwaardige toestand. (1:18-3:20).

·    2.  GEREGTIGHEID VERKLAAR en VERKRY - toegerekende geregtigheid (3:21-5:11).

·    3.  GEREGTIGHEID VOLBRING - toegepaste geregtigheid (5:12-8:39).

·    4.  GEREGTIGHEID VERBEUR - die LOT VAN ISRAEL (Hfst 9-11).

·    5.  GEREGTIGHEID VERTOON - in lewe en diens (Hfst 12-15:7).  SLOT:  15:8 - 16:27.

 Die brief kan ook as volg ingedeel word:  
DEEL EEN - LEERSTELLIG Hfst 1-8.  DEEL TWEE - NASIONAAL Hfst 9-11.  DEEL DRIE - PRAKTIES Hfst 12-16.  Elk van hierdie sluit af met 'n lofsang (8:38-39; 11:33-36; 16:25-27).
 - 2 -
 
Of as volg:
 
   a.  WAT ONS IS - WAT HY VIR - IN - EN DEUR ONS DOEN.                                  
   b.  GEEN LEWE IN ONS - SY LEWE VIR ONS - SY LEWE IN ONS - ONS LEWE VIR HOM.
   c.  GEEN GEREGTIGHEID IN ONS - SYNE ONS TOEGEREKEN - SYNE ONS MEEGEDEEL  
       - SYNE DEUR ONS UITGELEEF.

INLEIDING: DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS   1:16,17        

"Die Evangelie van Christus is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo."  Dit is die sentrale tema van die boodskap in Romeine. Die sleutelwoord in hierdie twee verse is "GLO" - dit kom 4 keer voor! Die hele boodskap draai om "Jesus Christus" uit Wie en deur Wie en tot Wie alles is. PAULUS is die draer van hierdie wonderlike boodskap na die heidene.  Dit was die: . . . . . .

·    1. DIE VERVULLING VAN DIE BELOFTE: Messias vir die Jode en Saligmaker vir almal!

·    1.1  CHRISTUS HET VERSKYN volgens die beloftes van die Skrif deur die profete (v1-3). Op die regte tyd vir die goddelose (5:6), vir die regte mense ("swakkes ... goddelose ... sondaars ... vyande - 5:6,8,10). Die Evangelie (blye boodskap) van God (1:1) is dieselfde blye boodskap van Christus (1:16).

·     1.2  CHRISTUS IS VERHOOG want Hy is as Koning uit die geslag van Dawid gebore en as Koning het Hy die mens se grootste vyand oorwin. As Koning is Hy ook verhoog aan die regterhand van God. Met eer, gesag, majesteit en outoriteit is Hy beklee; Hy wat aan ander "genade" en "apostelskap" kon gee en vir Paulus die spesifieke opdrag as apostel na die heidene (v.3b,4,5).

·    1.3  CHRISTUS IS VERRESE, want Hy is deur die Heilige Gees met krag verklaar as die Seun van God deur die opstanding uit die dode. Dit was juis deur dié blye boodskap dat die dood sy angel verloor het, dat Jesus Christus die HERE, die dood oorwin het en daardeur bewys het WIE Hy in werklikheid is - niemand minder nie, as die SEUN VAN GOD!

2. DIE VOORSIENING VAN 'N BOODSKAPPER  - Paulus se "geloofsbriewe".

2.1 PAULUS 'N GEMERKTE DIENSKNEG: ("Doulos" of bondslaaf. 'n Selfstandige naamwoord wat afgelei is van die werkwoord, om te bind). Iemand wie se lewe, persoon, diens, tyd en toekoms onlosmaaklik en finaal aan sy meester uitverkoop en vir altyd aan hom gebind is (Lees en vergelyk ook Rom.1:1; Ex.21:1-6; Ps.40:7 en Heb.10:7 noukeurig in volgorde).

2.2  PAULUS 'N GEROEPE APOSTEL (v.1): 'n Apostel is 'n ooggetuie, gestuur met die outoriteit van die Een wat stuur. "Geroepe ..." ("kletos" - om te roep of te nooi). Paulus was genooi of geroep tot apostelskap. Vers 6 sê dit is Christus wat roep.

2.3  PAULUS WAS 'N GEHEILIGDE BOODSKAPPER (v.1,5):  Hier noem Paulus geen ander medewerker saam met hom nie, want hy alleen is die afgesonderde, geroepe boodskapper na die heidene. Hy verlang om hulle te sien en te dien (v.11). Hy verklaar sy verantwoordelikheid (v.14), sy verlange (v.15) en sy vrymoedigheid (v.16).
 
3.  DIE VRUG VAN DIE BOODSKAP  was tweevoudig:-

3.1  DIE KRAG TOT REDDING (v.16):  GOD se eie ‘dunamis’ krag vir elkeen wat GLO en hierdie krag is tot REDDING! Die woord "redding" impliseer verlossing van 'n bose mag, invloed, en bedreiging wat gevaar inhou. Dis nie 'n krag tot blote hervorming, verandering of ontwikkeling nie, maar God se "dunamis"; Sy hoogste, inherente krag tot redding!

3.2  DIE KWALIFIKASIE TOT GEREGTIGHEID (v.17): Hier verander die krag van geloof tot
redding vir elkeen, na die regverdige (hy wat reeds tot redding gekom het deur geloof) wat nou uit die geloof sal lewe! Geloof tot redding/verlossing is NIE 'n groeiproses van probeer in eie krag, of 'n
verdienste proses van werke nie. Dit is soos die Griekse werkwoord in die aoristus tyd aandui, 'n besliste KRISIS-ondervinding wat in ʼn oomblik finaal, by 'n punt van handeling, afgehandel en voltooi word!

- 3 -

LEWE is die vrug van redding/vryspraak deur geloof, maar enige egte lewe behoort gesond en normaal tot vrugbaarheid, oorvloed en volwassenheid te groei. Reddende geloof (v.16) is die vereiste/kwalifikasie tot LEWE. "Uit" hierdie beginpunt van geloof is dit werksaam "tot" die openbaring (en bevrediging) van die GEREGTIGHEID van God wanneer dit die gelowige lei tot VRYSPRAAK van sondes (23:22-24) én tot VRYMAKING van díé sondé (Rom 6), van die wet (Rom 7) en van die vlees (Rom 8). Die uitdrukking, "uit geloof tot geloof" beteken dus dat egte, reddende geloof aan die begin beslis nie die einde is nie, maar net die begin van verdere hoogtepunte van vrymakende geloof!

DEEL 1

HOE DIE MENS MET SONDE VERENIG IS.

GEREGTIGHEID DEUR GOD VEREIS, MAAR DEUR DIE MENS  VERLOOR (1:18-3:20)

In hierdie gedeelte word die ONGEREGTIGHEID van 4 soorte mense, verteenwoordigend van ALLE mense bewys, waardeur die regverdige TOORN van God geopenbaar en ontketen word. Nêrens anders word die toestand van die sondaar sonder God in al sy afskuwelike onreinheid, volkome verdorwenheid en absolute verlorenheid, só verbasend realisties en eerlik beskrywe nie! Die doel is dit uiters noodsaaklik is dat die sondaar éérs sy sondige, verlore en doemwaardige toestand en sy wanverhouding met God sal ontdek en daardeur dan ook sy desperate behoefte aan 'n VERLOSSER!

1.1.  ONGEREGTIGHEID VAN DIE HEIDEN BEWYS  (1:18-32)   

1.1.1   SY WANBEGRIP - omdat en terwyl hy die WAARHEID ONDERDRUK! (v.18-20)

1.1.1.1  Geen verborgenheid (v.19) Wat van God geken kan word - naamlik Sy heiligheid - is in en aan hulle geopenbaar. Die rou heiden is ook bewus van God se bestaan - van Sy ALMAG in die skepping (v.20) en deur gewete van Sy regverdigheid van OORDEEL (2:14-16). Kennis van God is van die begin af ook by wyse van tradisie en oorlewering in stand gehou (Gen.10, Hand.17:26).

1.1.1.2 Geen verontskuldiging (v.18,20) "Goddeloosheid" (God-los-heid) is doelbewuste miskenning van God se bestaan; van Sy eise, Sy geregtigheid en Sy heiligheid en dít is die KERN van sonde teen God, teen die PERSOON van God! "Ongeregtigheid" is sonde teen die WIL van God, wat ook sonde teen jou medemens insluit, waardeur jy doelbewus van die "waarheid" ontslae probeer raak deur dit te "onderdruk"(v.18). Hierdie mense se sonde teen God, teen Sy lig en waarheid, plaas hulle op 'n dwaalspoor wat sal eindig waar alles vir hulle verkeerd en verdraaid is, soos ons weldra sal sien!

1.1.2   SY WANVOORSTELLING: hy het die WAARHEID ‘OMGERUIL’ (v.25)!  Daardeur:-

.1.2.1  Bespot hulle God (v.23):  Deur hulle miskenning van God het hulle die waarheid van God verruil, deur die "heerlikheid van die onverganklike God" te verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere! Heerlikheid is omgeruil vir skande, onverganklikheid vir bederf en die waarheid vir die leuen! Die vrug en loon van hulle dwaasheid en volharding in sonde, was in hulle siele - "daarom het God hulle ook in die begeerlikheid van hulle harte “OORGEGEE” aan onreinheid . . . . " (v.24).

1.1.2.2  Beroof hulle God van Sy heerlikheid (v.23), Sy waarheid, Sy diens en van die dank wat Hom alleen toekom (v.25). Die loon van volharding in hierdie sonde is in hulle liggame - "daarom het God hulle “OORGEGEE” aan skandelike hartstogte!" (v.26).

1.1.2.3  Beledig hulle God (v.28,29): Volharding in minagting van God - om Hom heeltemal te ignoreer asof Hy nie bestaan nie - is seker die ERGSTE graad van belediging! Die loon van volharding
in hierdie sonde was in hulle verstand of gemoed (slegte gesindheid). Hulle het vir GOD opgegee, toe het Hy húlle “OORGEGEE” om “VERVUL” te word met vuilheid en ongeregtigheid in die ergste graad!

1.1.3   SY WANGEDRAG - wanneer hy die WAARHEID ONGEHOORSAAM is (1:29-32; 2:8).

- 4 -

Hier word die TOORN van God beklemtoon (2:8) wat net soos Sy LIEFDE, nie maar net vir 'n oomblik ('n flits) is en dan verby is nie! NEE! Dit bly voortdurend (duratief) op die ongehoorsame en ongelowige sondaar (L.W. Joh.3:36). Die TOORN van God is 'n openbaring van God, net soos Sy GEREGTIGHEID en sy LIEFDE. Geregtigheid beteken gelyk aan wat REG is. Dit is eenvoudig net wat God IS, wat Hy HET, wat Hy GEE en wat Hy EIS. "Vir 'n lang tyd het Martin Luther net God se geregtigheid raakgesien wat veroordeel wanneer dit verwerp word - en dít het hy gehaat! Toe hy ontdek dat daardie geregtigheid wel veroordeel wanneer dit verwerp word, maar red wanneer dit aanvaar word, het LIG vir hom in sy verduisterde siel deurgebreek!" (Dr Kenneth Wuest).

Wanneer God in Sy TOORN die sondaar ‘OORGEE’ aan onreinheid van hart (v.24), aan skandelike en onnatuurlike hartstogte van die vlees (v.26) en aan 'n slegte gesindheid in sy gees (v.28), word sy hele wese die broeines van "allerhande ongeregtigheid" van die gruwelikste soort (v.29-32) en is hy alreeds besig om oor die afgrond te stort! Erger nog - as hy dan nog boonop daarmee "VERVUL" word soos v.29 aandui, word dit soos 'n klip om sy nek wat hom, as 'n reeds tot die dood veroordeelde (Joh.3:36), wat dreig om hom onkeerbaar en al vinniger oor die afgrond te laat stort!

1.2  ONGEREGTIGHEID VAN DIE MORELE MENS BEWYS  (2:1-16)

1.2.1   DIE OPINIE van die morele of skynheilige mens (2:1-6) in:-

1.2.1.1  Wat hy voel (2:1,2): Die "oordeel" wat hier ter sprake is teenoor ander mense is nie normale, gesonde be-oordeling nie, maar ver-oordeling tot verdoeming, wat nie net baie onwys kan wees as dit gedoen word op grond van verkeerde begrippe, waarneming, inligting en norme nie, maar ook baie verkeerd en gevaarlik - want God sê as jy ander oordeel in dit waarin jy self skuldig is, veroordeel jy jouself! Een van die kenmerke van die deur sonde verdraaide natuur van die mens, is dat hy blykbaar gouer en makliker die "splint" in die oog van sy medemens raaksien terwyl die baie groter "balk" in sy eie oog is! 'n Baie agterdogtige en skerp kritiese houding teenoor ander mense verraai dikwels die innerlike toestand van so 'n persoon se eie geestelike lewe!

1.2.1.2  Wat hy vind (v.1,3): Dit is 'n wrede ontnugtering as jy ontdek dat jy self in die oog van God presies dieselfde dinge doen as wat jy in ander raaksien en veroordeel! Dit is nog erger as jy verneem dat dieselfde séker oordeel dan op jou rus en dat God Sy oordeel dan nog verder sal verhewig op grond van en in lyn met dieselfde maatstaf waarmee jy meet!

1.2.1.3  Wat hy vergeet (2:4): Die Griekse woord "chrestotes" wat hier vir goedheid of goedertierenheid gebruik word, dui op diepe emosie (empatie), soos byvoorbeeld die van Jesus teenoor die vrou by die put van Sigar en die vrou wat in egbreuk betrap was! Verdraagsaamheid ("anoche") dui op 'n wapenstilstand met 'n beperking, wat nie onbeperk sal voortduur nie. Dit is asof Paulus wil sê, "gebruik die wapenstilstand om met God oor vrede te onderhandel!" Lankmoedigheid (“makrothumia”) staan altyd i.v.m. optrede teenoor mense. Jy is byvoorbeeld in 'n volmaakte posisie om wraak te neem op iemand wat jou kwaad aangedoen het, maar uit eie wil verkies jy om dit NIE te doen nie! Dis presies wat God graag met die sondaar wil doen, maar wanneer die morele, skynheilige mens in sy dwaasheid hierdie feite ‘vergeet’, verag hy nie net hierdie wonderlike karaktertrekke van God nie, hy verstaan ook nie God se doel daarmee nie!

1.2.2   DIE OORDEEL op die morele of skynheilige mens (2:7-16).

1.2.2.1  Oordeel volgens werke (2:5-10):  Die skynheilige, onbekeerlike, verharde hart is besig om dag na dag - soos water in 'n dam, meer en meer toorn te vergader, totdat die dam oorvol raak en die damwal breek! Totdat dit "grimmigheid en toorn, verdrukking en benoudheid" oor die siel sal wees! (v.8,9) Maar God vergeld nie net die sondaar volgens sy dade nie, maar vergoed die een wat positief op Sy kosbare beloftes reageer en tot bekering kom (v.7,10). Die term "soek" in v.7, is NIE die toestand van 'n verdwaalde persoon wat al in die rondte maal en nie sy pad terug kan kry nie, maar van een wat doelgerig die regte pad huis toe soek, dit met mening uitsoek en daarvan séker maak!

1.2.2.2  Oordeel volgens waarde (2:11-16)  God se 5-voudige maatstaf is altyd:
 a. Na waarheid (2:2). God se oordeel is altyd gegrond op die volle waarheid!

- 5 -

b. Na werke (v.6). As God regverdig oordeel volgens werke, is daar geen sprake van redding deur "goeie werke" nie, net beloning vir diegene wat al reeds deur geloof vrygespreek is (v.7,10), of vergelding en oordeel op die goddelose se handelwyse en reaksie op God se aanbod van genade (v.5,8,9).

c. Na waarde (of resultate v.7-11). Daar is sprake van net twee groepe - die wat "kwaad" doen omdat hulle sondaars IS (v.9) en die wat “goed” doen omdat hulle sondaars WAS (v.10). Ons word deur GELOOF geregverdig voor God, maar ons WERKE moet ons geloof regverdig voor mense! Jy word na waarde geskat volgens jou WERKE, soos ʼn boom geken word aan sy vrugte!

d. Na wet (v.12-14). Die een groot voorreg van die Jood was die WET. Omdat die heiden beswaar kon maak en sê dat God eintlik net die Jode behoort te straf omdat net húlle van beter behoort te geweet het volens die lig van die wet, lê Paulus hierdie twee belangrike beginsels neer nl. - die mens sal geoordeel word volgens wat elkeen bevoorreg was om te weet. As hy die wet geken het, sal hy deur die wet geoordeel word. As hy nie die wet geken het nie, sal hy geoordeel word as een wat nie die wet geken het nie. Die tweede beginsel was dat, al sou die heiden dan nie die geskrewe wet geken het nie, was daar tog in elke mens se hart 'n ongeskrewe wet (sy gewete) gegrafeer!

e. Na werklikheid (v.13,16). Lees hierdie twee verse direk na mekaar, want v.14-15 is 'n parantese of tussenvoegsel. Die waarheid wat hier na vore kom is dat dit nie die HOORDERS nie, maar die DADERS is wat tel! Nie die sigbare nie, maar die onsigbare!

1.3  ONGEREGTIGHEID VAN DIE JOOD BEWYS  (2:17-3:18)

1.3.1   SY BELYDENIS GETOETS (2:17-24).

1.3.1.1 Volgens sy kennis van die waarheid (v.17-20). Die Jood meen hy het volkome kennis van die waarheid, hy is verseël in die waarheid en is vertroud met die waarheid wat voortspruit uit sy kennis van God en Sy wil ... deur die wet. Hy is so selfversekerd weens sy afkoms, sy bevoorregte posisie, sy geestelike kennis en sy eie oordeel- en onderskeidingsvermoë, dat hy 'n meerderwaardige houding het wat hom in die waan laat verkeer dat hy bo ander mense, veral heidene, verhewe is! Net soos die sogenaamde "wysheid" van die goddelose heiden (1:22), wat God as dwaasheid bestempel, roem die Jood op sogenaamde "verligtheid" wat God as blindheid bestempel! Byv. ... "blinde Fariseër .  .  .  "

1.3.1.2  Volgens sy keuse van gehoorsaamheid (v.21-24). God, deur Paulus, bestempel hulle as geestelik oneerlik (v.21a), onsensitief (v.21b-22) en onvoorbeeldig (v.23,24).
Al hierdie uiterlike voorgee, is maar net die glansverf op die innerlike bederf!

1.3.2   SY ‘BESNYDENIS’ GETOETS (2:25-29).

Die besnydenis as dié teken van die verbond wat God met Abraham gemaak het (Gen.17), het vir die Jood belangriker geword as die verbond self! Hulle het die dieper betekenis en geestelike waarde van die besnydenis as teken van die verbond (Deut.10:16; 30:6; Jer.9:26; Eseg.44:9; Kol.2:11,12) glad nie verstaan of waardeer nie. Hulle het nie besef dat besnydenis, sonder die onderhouding van die wet waardeloos, nutteloos en tevergeefs was nie! Hier word dit as 'n feit gestel dat daar besnedenes is wat NIE die wet onderhou nie, terwyl daar onbesnedenes is wat WEL die wet onderhou. Dis logies en reg dat laasgenoemde eerder as "Jood" by God kwalifiseer!

1.3.3   SY BESWARE GETOETS (3:1-8) in sy:-

1.3.3.1  Verskoning vir ongeloof (v.3 -Eng. "ontrou"): Verontwaardig wil die Jood weet - ‘wat is dan die voordeel om Jood te wees, as Joodwees en besnydenis, volgens Paulus, slegs geestelik en innerlik is’? In v.2 antwoord Paulus dat dit inderdaad 'n groot voordeel is - want aan húlle is die Woord van God toevertrou! In v.3 beweer (L.W.) die Jood dat die ontrou/ongeloof van sommige tog niks aan die feit sal verander dat h­úlle die uitverkore volk is (en sal bly?) nie, want God se houding en getrouheid teenoor húlle, sal tog nie verander nie! So 'n gedagte is vir Paulus totaal verwerplik! (v.4).
  
- 6 -

1.3,3,2  Verskoning vir ongeregtigheid (v.5-8): Sommige het beweer dat, omdat die sondaar dan juis deur sy sonde die geregtigheid/vergewensgesindheid van God bewys en in-werking-stel, is SONDE mos tot God se voordeel, want dit bewys dan Sy geregtigheid! Sommige ander het Paulus ook belaster as sou hy leer dat ons soveel kwaad as moontlik moet doen, want dan kom die goeie (God se genade/vergifnis) as gevolg daarvan te voorskyn (v.8). Paulus roep verontwaardig uit dat ás hy so iets sou verkondig, hierdie mense se oordeel oor hóm dan regverdig sou wees (v.8b)!

1.4  ONGEREGTIGHEID VD HELE MENSDOM BEWYS  (3:9-20).

Die donker prent van SONDE verdiep om die oorsprong van ongeregtigheid te beskryf. Dit verbreed ook om die omvang van ongeregtigheid te beskryf en God se finale uitspraak is - DIE HELE WÊRELD IS DOEMWAARDIG VOOR GOD! (v.19).

1.4.1   DIE OMVANG VAN SONDE (v.9-12) raak "almal!"

1.4.1.1  Almal is ongered (v.10). Geen mens is van nature "regverdig" voor God nie - selfs nie EEN nie! ALMAL is verlore! "ALMAL het gesondig ... " (3:23).

1.4.1.2  Almal is onverstandig (v.11). Die verlore mens meen en gee voor dat hy wys is, maar in werklikheid het hy dwaas geword (1:22). Die donkerste tyd in Israel was toe "elkeen gedoen het wat reg was in sy oë" ... maar “baie verkeerd in die oë van die Here” (Rigters 17:6; 21:25). As jy jouself met ander vergelyk, kan jy dalk dink jy is beter as hulle, maar ons volmaakte voorbeeld bly die Here JESUS!

Die natuurlike (ongeredde) mens het geen aanvoeling of begrip vir geestelike dinge nie, al mag hy ook hóé geleerd, beskaafd en godsdienstig voorkom (1 Kor 2:14).

1.4.1.3  Almal is onafhanklik van God (v.11b). Die woord "soek" (“ekzeteo”) beteken, net soos in 2:7, 'n vasberade, doelbewuste soeke na iets. Baie speel ‘winkel’ met godsdiens, en kies baie kieskeurig uit wat hulle pas, maar nie te veel sal kos nie! Vir God self soek hulle glad nie en hulle kan goed genoeg sonder Hom klaarkom! (2 Tim.4:3).

1.4.1.4  Almal is ontaard (v.12 "akhrioo" - beteken ‘make useless’) Goedkoop, nutteloos.

1.4.1.5  Almal is onboetvaardig (v.12b). Die "goed doen" in dié konteks, beteken NIE die doen van goeie werke as verdienste nie, maar die één ‘goeie werk’, nl., om in Christus te GLO (Joh.6:29)!

1.4.2   DIE ONREG VAN SONDE (v.13-18) - teenoor ander en God, deur:-

1.4.2.1  Hulle woorde is:

- gruwelik, soos 'n oop graf, waaruit al die stank en bederf kom!

- gevaarlik, want dit is daarop ingestel om ander te bedrieg!
- giftig, soos die tande van 'n dodelike slang!

1.4.2.2  Hulle werke is alles:

- moord - Kain is te verfynd om 'n lam te slag, maar vermoor sy eie broer.
- misvormd (v.16,17) - Onvrede heers. Verwoesting en ellende stap saam.
- minagtend (v.18) - Mense leef en tree op asof God glad nie bestaan nie!

1.4.3   DIE ONMAG VAN DIE SONDAAR (v19,20) - om homself te red!

1.4.3.1  Hulpeloos - van alle kante oordeel en verdoem deur die wet (v.19).

1.4.3.2  Hopeloos - Selfs die mees volmaakte "werke vd wet" is onvoldoende (v.20).
 
- 7 -

 DEEL 2.  

HOE GOD ONS VERGEWE HET  - GEREGTIGHEID VERKRY (3:21-5:11 “TOEGEREKEN”. Op 3 maniere: Verlossing is vry ... die regsaspek (3:21-31); volgens vertroue ... die geloofsaspek (hoofstuk 4) en volkome ... die liefdesaspek (5:1-10).

2.1  GOD SE VERLOSSING IS VRY  - (die REGSASPEK) (3:21-31).

2.1.1   DIT IS REALISTIES (3:21-23) want dit is:-

2.1.1.1  Skriftuurlik in sy aanwending (3:21). Die wet (die 10 gebooie) van die O.T. was ten eerste moreel en bedoel om sonde te “openbaar”. Ten tweede was dit seremonieël (offerandes ens) en bedoel om sondes te "bedek" totdat Christus sou kom. Die heilige en regverdige God erken en staan steeds by die eise van die wet, maar deur die offer van Christus voorsien Hy volkome vryspraak én vrymaking vir die sondaar. Die wet EN die profete (soos byv. Jes.53) getuig daarvan!

2.1.1.2  Seldsaam in sy aanbod (v.22,23) omdat dit uniek is in die sin dat dit slegs en enkel deur die GELOOF verkry kan word! Hier is die hart en kern van die Evangelie, van vryspraak en verlossing! Vir die Jood met sy godsdiens, die Griek met sy kennis, die heiden in sy sonde en duisternis - vir ALMAL is daar net één poort en één weg tot redding - die weg van G E L O O F in Christus! (Alle ander gelowe glo net in werke wat húlle voorskryf en beoefen dan dáárdie WERKE as verdienste).

As die Heilige Gees in v.23 sê - ALMAL het gesondig (Aoristus tyd) - dui dit op 'n punt van handeling wat blykbaar na die sondeval terug verwys. Die verskynsel van sonde is universeel, want in Adam het ALMAL reeds gesondig en teenswoordig ontbreek dit ELKEEN reeds aan die heerlikheid van God! Net so universeel is God se voorsiening vir vryspraak/vrymaking vir ALMAL wat GLO!

2.1.2   DIT IS REGVERDIG (v.24-26) want dit is:-

2.1.2.1  'n Klassieke aankondiging van genade sonder verdienste (v.24), en van geloof sonder werke (v.22,26,27,28). Die prys van genade is die kosbare bloed van Christus (v.25) en die pleitgrond vir geloof is presies dieselfde - die kosbare BLOED van die Kruis, waar Hý die boetvaardige sondaar se skuld betaal en met sy sonde afhandel! "Genade is verniet, maar nie goedkoop nie!" Vers 24 is een van die GROOTSTE verse in die ganse Skrif!

2.1.2.2  'n Koninklike aanbod (v.25b,26) van amnestie, vryspraak vir die sondaar!

2.1.3   DIT IS REDELIK (v.27-31) want:-

2.1.3.1  Dit sluit verdienste uit - "waar is dan die roem?" Roem is hoogmoed wat deur woorde uitdrukking vind en darem nog op die een of ander manier regverdigmaking of vryspraak deur God aan die wet of aan verdienste deur werke, wil toeskryf! Op werke, op doen (en voordoen), op godsdiens en selfs op afkoms, posisie en status in die samelewing kan mense roem, maar nooit op genade nie! "Sonder verdienste geregverdig" beteken hier dat God die sondaar regverdig VERKLAAR op grond van Jesus se soendood waardeur sy stand en verhouding tot God verander. "Deur die verlossing (“apolutrosis”) wat in Christus Jesus is", is 'n handeling wat redding verseker deur middel van die betaling van 'n losprys (“lutron”). Hierdie term is gebruik by die vrykoping, tot vrylating, van slawe of krygsgevangene. "As versoening ..." beteken om toe te maak, te bedek. Dieselfde funksie van die versoendeksel.

2.1.3.2  Dit sluit verdeling uit (v.28-30) - net soos daar geen onderskeid van alle mense en van alle rasse as sondaars is nie (v.23) - net so is daar ook GEEN ONDERSKEID tussen Jode en heidene, besnedenes en onbesnedenes (v.29,30) in die genadewerkinge en die ‘welkom’ van God tot Sy groot verlossing nie! God is geen aannemer van die persoon nie! 'n Beknopte definisie van vryspraak/regverdigmaking is­:- "Dis 'n geregtelike daad van God waardeur Hy die sondaar wat GLO, slegs op grond van Christus se Kruisverdienste vir en namens hom, uit genade vryspreek deur hom die ‘geregtigheid’ van Christus toe te reken, terwyl Hy hom sy eie ‘ongeregtigheid’ NIE toereken nie,

- 8 -

omdat Christus dit namens hóm aan die Kruis gedra het. God sien hom ‘in Christus’ aan, asof hy NOOIT gesondig het nie, omdat Hy vir Christus aangesien het as ‘sondaar’ in sý plek!"

2.2  GOD SE VERLOSSING VOLGENS VERTROUE  - DIE GELOOFSASPEK (Hf4).

2.2.1   DIE VOORBEELDE VAN GELOOF (4:1-6).

Soos Hebreërs 11 die grootste geloofshoofstuk in die Bybel is, is Romeine 4 bo alle twyfel dié van regverdigmaking deur geloof alleen, sonder enige werke of verdienste van mense! Om aan die Jode te bewys hoe onskriftuurlik die begrip van redding deur werke is, neem Paulus voorbeelde van hulle groot voorvader Abraham en hul grootste koning, Dawid, om te bewys dat redding enkel deur geloof geskied!

2.2.1.1 Abraham.

a)  Abraham - ons ‘vader na die vlees’.  Die Jode verwys altyd na Abraham as hul "pater" (vgl. Joh 8:39 - geestelike vader), maar hier is dit "protator" (stamvader). Paulus wil dit duidelik stel dat hy geensins in 'n geestelike sin na hom verwys nie, maar bloot as "vader na die vlees". Hulle kan nie, omdat hulle sy nageslag na die vlees is, daarop aanspraak maak dat hulle daardeur outomaties as kinders van God kwalifiseer nie! Bowendien het die feit dat Abraham nooit geroem het teenoor, of voor God nie (v.2), nog verder bewys dat hy self NIE regverdiging deur werke ontvang het nie, want 'n mens kan alleen roem as daar enige menslike prestasie deur werke is! Dit is interessant om daarop te let dat Jakobus wel vir Abraham gebruik as voorbeeld van regverdiging deur werke (Jak.2:21), maar dan is dit werke as ‘vrug’ of bewys van regverdiging deur die geloof en nie as verdienste tot regverdiging nie!

b)  Abraham - ons voorbeeld van vertroue.  Die woord "reken" of toereken wat ons tien/elf keer in hierdie hoofstuk kry, is 'n boekhou- of bankterm en in 'n geestelike sin soos hier, is dit van toepassing op die vereffening/balansering van die mens se rekening by God! Dis 'n dubbele rekening deur God self nl., "die sonde NIE toereken nie" (v.8), en "dit IS hom tot geregtigheid gereken" (v.3). Alhoewel Abraham se geloof meer 'n lewenshouding was, was dit uiteraard ook 'n wilsdaad en ʼn morele geloofsdaad van oorgawe in vertroue by 'n besliste punt van handeling (Gen.15:6). Nie die Jood wat na die vlees uit hom gebore is, is sy ware geestelike "kinders" nie, maar slegs diegene wat net soos hy GLO!

2.2.1.2  Dawid

a)  Dawid - die skuldige, veroordeel deur die wet (v.6). Omdat Abraham 430 jr voor die instelling van die wet van Moses geleef het en dus nie deur dáárdie wet as sondaar bewys en veroordeel is nie, was sy voorbeeld van regverdiging deur die geloof nie voldoende nie - daarom dat Paulus vir Dawid as aanvullende voorbeeld neem wat wel deur die wet van Moses veroordeel was. Dawid het drie van die tien gebooie oortree nl., begeer, egbreuk en moord ... dinge waarvoor daar geen vergifnis onder die wet deur die voorsiening van offerandes gemaak is nie. Sy geval was dus een van 'n desperate, veroordeelde sondaar wat op absoluut geen verdienste aanspraak kon maak nie, daarom beroep hy hom net op GENADE! Hier was dus geen sprake van verdienste deur werke of wetsonderhouding nie!

d)  Dawid - die sondaar vrygespreek deur genade (v.7,8). Paulus haal nou aan uit Psalm 32 wat geskryf is ná  die openbaarmaking van Dawid se geheime sonde met Batséba en Psalm 51 is sy boetegebed, waar hy smeek om GENADE! Alle Jode het goed geweet wat met hom gebeur het en hoe hy vrygespreek is! Daar is verdere kosbare waarhede in 'n studie van die woordbetekenisse van v.7,8!

2.2.2   DIE VOORDELE VAN GELOOF (4:6-8). Vergifnis/bedekking wat lei tot vrymaking!

Let veral hier op die korrekte betekenis van sonde en van God se redding. Die Heilige Gees vind dit noodsaaklik dat SONDE en God se VERLOSSING daarvan, uit drie verskillende oogpunte en met verskillende woorde, wat verskillende betekenisse het, beskryf word:

2.2.2.1  Ongeregtighede (“anomia”) - vergewe (“afiëmi”). "Anomia" is vertaal van die Hebreeuse woord "phesa" (Ps. 32) afgelei van "phasa" wat beteken om te rebelleer, in opstand te wees en weier om te buig onder God se gesag. "Afiëmi" word in v.7 gebruik ("nasa" in Hebreeus in Ps.32), en albei beteken

 - 9 -

wegstuur of wegdra (vgl. die ‘sondebok’ in Levitikus 16). Dit beteken eintlik dus baie meer as slegs vergifnis en dui op 'n verwydering of ‘wegdra’ waar dit nóóit meer gevind sal word nie! Hierdie werkwoord (‘bedek’) is ook in die Griekse aoristus tyd geskrywe.

2.2.2.2  Sondes (“hamartia”) - bedek. "Hamartia" is afgelei van die Hebreeuse woord "chatah" en albei beteken - om die doel te mis! Dit beteken egter NIE dat iemand wel probeer om die doel te bereik, of die kol te tref, maar weens swakheid nie daartoe in staat is nie. Die teendeel is waar! SONDE en ONGEREGTIGHEID word altyd as parallelle gebruik in die mens se wettelose, roekelose en moedswillige weiering om die doel wel te bereik!  Ongeregtighede word vergewe, maar sondes word bedek. Die Hebreeuse woord vir bedek (“kasah”) beteken 'n ewige bedekking!

2.2.2.3  Dié sonde (“hamartia”) - nie toereken (v.8). In hierdie vers is "hamartia" in die kollektiewe enkelvoud, teenoor sy gebruik in die meervoud, in v.7. Dawid gebruik egter 'n derde woord nl., "avon" - afgelei van "avah" - wat beteken om weg te draai en dit moedswillig te doen! As DIE SONDE hier "erfsonde" beteken wat jou moedswillig van God af laat wegdraai, kan ons verstaan dat vir hierdie spesifieke "sonde" die woorde, “nie toereken nie" gebruik word, want dit mag nog aanwesig wees by die boetvaardige en berouvolle sondaar wat alreeds vergifnis vir sy ongeregtighede en bedekking vir sy baie sondes ontvang het, maar nog nie volkome verlossing/vrymaking van erfsonde nie!

2.2.3   DIE VOORBEHOUDE VAN GELOOF (v.9-16).

2.2.3.1  Tydsberekening van Besnydenis - In die tyd van Paulus het baie gelowige Jode vryspraak sonder besnydenis, as onmoontlik beskou (Hand.15:1-29; Gal.2:1-14). Hulle wou álle gelowiges uit die heidene eers "Jode" maak en tot besnydenis dwing as voorwaarde tot en bewys van vryspraak! Maar Paulus se onweerlegbare argument hier is dat God vir Abraham vrygespreek het alléén op grond van geloof (Gen.15:6). Besnydenis het eers 14 jr later gevolg as die teken/seël daarvan (v.11; Gen.17:7-14)!

2.2.3.2  Toerekening nie net vir Besnedenes - maar vir ALMAL wat in Abraham as hul geestelike "vader" in die geloof se voetstappe volg wat GEGLO het terwyl hy nog onbesnede was! Dit is dus nie "heiden" wat "Jood" moes word om gered te word nie, maar eintlik is dit "Jood" wat eers "heiden" - soos Abraham - moet word, om te kan GLO! Die argument oor wanneer Abraham besny is en wie vir geloof tot vryspraak kwalifiseer, is dus deur hierdie paar verse as uiters belangrik bewys!

2.2.4   DIE VOORTREFLIKHEID VAN GELOOF (17-25).

2.2.4.1  Versekering - belofte (v.13). Daar is twee Griekse woorde vir "belofte" nl, "Hupchesis" (belofte onder sekere voorwaardes) en "Epagelea" (belofte uit die goedheid van die hart, sonder voorwaardes). Paulus gebruik hier "Epagelea" in die bekragtiging van God se verbond van genade met Abraham! Hierdie "belofte" (“epagelia”) is dus die grondslag van die genadeverbond. Die sleutelwoord in hierdie paar verse, is beslis "belofte"! (Vergelyk dit met die voorwaardelike verbond van die wet van Moses 430 jr later - Gal.3:19,20).

2.2.4.2  Vertroue - bewyse (v.17). "Soos geskrywe is . . . " lê die klem op God se WOORD! "Wat die dode lewend maak (die gestorwe liggame van Abraham en Sara?) en die dinge wat NIE bestaan nie (van die "Nakomeling" wat nog nie gebore was nie), ROEP asof hulle bestaan! ("Who gives life to the dead and speaks of the non-existent things - that He has foretold and promised - as if they already existed" Amp. Bible). God se WOORD en die manier waarop Hy as die Almagtige dit aan Abraham geopenbaar en bevestig het, gee die bewyse wat vertroue (geloof) wek!

2.2.4.3  Volharding - beperkinge (v.18). Die omstandighede het só hopeloos gelyk dat selfs hoop dwaasheid sou wees (v.18)! Die uiterlike tekens het alle logika en feite weerspreek (v.19), terwyl twyfel gedurig aan die deur van Abraham se geloof geklop het (v.20)!

2.2.4.4  Versterking - besieling (v.19-21). "Sonder om te verswak . . . . is hy versterk . . . . en was ten volle oortuig . . . . " Dit was heerlike, oorwinnende en volhardende GELOOF in die opwekkingskrag van God vir hulle liggame dat, ten spyte van swakheid en ouderdom, die "Nakomeling" uit hulle gebore kon word. Abraham het Hom wat beloof het, getrou geag - daarom is dit hom tot geregtigheid gereken!

- 10 -

2.3.  GOD SE VERLOSSING IS VOLKOME   (LIEFDESASPEK 5:1-10).

2.3.1    HOE GOD ONS LEWEND GEMAAK HET (5:1-4). Dit beteken:-

2.3.1.1  Vryspraak (v.1) of "geregverdig" deur die geloof is 'n regsterm en dui 'n geregtelike daad van God aan, waardeur Hy die sondaar regverdig verklaar op grond van Christus Jesus se soendood.

2.3.1.2  Vrede by God (v.1). Die vyand is met God versoen op grond van Sy soendood. (NAB v.9). Die middelmuur van skeiding tussen God en die sondaar is dan afgebreek!

2.3.1.3  Vrye toegang deur geloof (v.2). Geregverdig deur die verlossing wat daar in Christus Jesus is (3:24), en versoen met God, het die sondaar vrede by God. Ook vrye, volkome toegang deur die geloof tot Hom op 'n nuwe en lewende weg (Heb 10:19 -22).

2.3.1.4  Vastigheid (v.2. NAB - "vasstaan”). Dit is vir ewig as standhoudend gewaarborg maar let aub daar op - dit is "tot hierdie genade" - waarin ons nou vasstaan! Enige mens wat genade verag of misbruik, beweeg op uiters gevaarlike grond!

2.3.1.5  Vreugde (v.3,11) is die vrug van volkome vryspraak, van sielerus as gevolg van vrede by God, die voorreg van vrye toegang en die waarborg van vastigheid! Dit is die diepe versekering van God se volle verlossing in Sy voltooide werk van genade! L.W. v.3 sê vreugde gaan nie net oor die hoop van die heerlikheid wat voorlê nie, maar "ook in die swaarkry, want ons weet - swaarkry kweek volharding!"

2.3.1.6  Volharding (v.3,4). Dit is baie treffend dat swaarkry (verdrukkinge) juis volharding kweek. Volharding kweek lydsaamheid en volharding in die geloof egtheid (beproefdheid) van geloof wat lei tot hoop wat nie beskaam nie!

2.3.2   HOE GOD ONS LIEFGEHAD HET (v.6,8,10)

2.3.2.1  Bedoelde liefde spesifiek vir die "swakke" en "goddelose"! (v.6) "Op die regte tyd" bewys dat dit goed bereken en beplan was om onvoorwaardelik uitgegiet te word op die verdwaalde, verlore, en hulpelose sondaar wat niks vir sy eie heil kan doen nie! Dit maak die swakke sterk en bring die ver verwyderde weer terug na God!

2.3.2.2  Bewese liefde (v.8) vir die sondaar wat altyd God se beste bedoelings met wantroue, ongeloof en suspisie bejeën! In hierdie teks vind ons die hoogste vorm van goddelike liefde - dat Hy Sy lewe aflê - nie vir goeie mense nie, maar vir SONDAARS! Die hoogste vorm van menslike liefde vind ons in Johannes 15:13, maar die hoogste vorm van Goddelike liefde vind ons hier in vers 8.

2.3.2.3  Betroubare liefde (v.10) is liefde wat tot die uiterste getoets is en die toets volkome geslaag het op die moeilikste gebied van almal - juis daar waar menslike liefde altyd kortskiet ... teenoor jou vyand! Hierdie liefde oorweldig en ontwapen die vyand en verander hom dikwels in 'n vriend!

2.3.3    HOE GOD ONS LOSGEMAAK HET (v.5,9,10) deur:-

2.3.3.1  Sy Gawe (v.5). Die Heilige Gees kom in ons woon en deur Hom stort God Sy goddelike liefde in ons harte uit! Sonder die gawe en inwoning van die Heilige Gees in hart en lewe, kan geen mens Sy goddelike liefde deelagtig wees of ondervind nie!  Dit is die eerste melding van die Heilige Gees in die Sendbrief en Sy goddelike liefde wat "bewys" is (5:8) en "geopenbaar" (1 Joh.4:9) is. Die enigste verwysing tot hiertoe in die Sendbrief na liefde - "sonder natuurlike liefde" - was in Rom.3:31.

2.3.3.2  Sy Lewe wat Hy vir ons afgelê het (v.9) en nou aan ons meedeel (v.10). Sy lewe VIR ons om ons te versoen met God. Sy lewe AAN ons om Sy opstandingskrag aan ons mee te deel. In elk van hierdie 2 verse kom die woorde "veel meer" voor wat saam met die KWALITEIT van Sy verlossing, ook die oorvloedige, onbeperkte KWANTITEIT of mate van Sy verlossing aandui. God se verlossing tot redding en heiligmaking is nie 'n rotspunt waaraan ons krampagtig moet vasklou nie, maar 'n ruim plato waarop ons onbeperk, binne die grense van Sy liefde, vryelik op hoër grond kan beweeg!

Geskryf deur Andre du Toit (www.gebedsklub.net)