BARENSNOOD

Geskryf deur Ds. R. Beukes. Gepos in Geskrewe Preke

Skriflesing: Galasiërs 4:1-19.

Teks/Tema: v.19.

'n Man, gedryf deur die liefde van Christus en die liefde en krag van die Evangelie, het met sy sendingreise na die stede van die provinsie Galate gegaan en die Evangelie aan hulle verkondig. In hierdie man was daar oortuiging en erns oor hierdie mense dat God onder hulle sou werk!

Die beeld wat hy gebruik het om die erns daarvan te beskryf was "barensnood" – die ontsettende belewenis en gewaarwording wat 'n vrou beleef voordat 'n kindjie gebore word. As gevolg daarvan het God siele in die provinsie van Galate gered. Hulle het vryheid en vergifnis ervaar en ’n mooi pad begin stap. Na 'n ruk het die man, Paulus, vertrek en dit was die geleentheid wat die duiwel gebruik het om sonde en onmin in hul midde te saai. Sekere mense het van Jerusalem gekom en onder die jong Christene begin verkondig dat om net in Jesus te glo en Hom te vertrou nie genoeg was nie. Hulle moes ook besny word en die feeskalender stiptelik navolg. Hierdie kinders van God in Galasië het hulle laat weglei van die weg van geestelike groei en geestelike vorming na die beeld en gestalte van Christus. (Galasiërs 3:1).

Soos dit by elkeen wat dit erns maak met die Evangelie moet wees, het dit 'n geweldige onsteltenis in Paulus se gemoed veroorsaak. Vrae wat hy onder andere gevra het, was:

– Was al sy werk verniet?

– Gaan hulle so gou die weg verlaat agter 'n ander Evangelie aan?

– Word hulle so gou betower?

– Het hulle verniet so baie gely?

Alles wat hy met hierdie gemeentes beleef het en wat hy in die Woord van God gelees en geleer het nl. dat hulle aan die beeld van Christus gelykvormig moet word, het in sy hart weer daardie desperate benoudheid gebring en weer noem hy dit "barensnood" — "My kinders, vir wie ek weer in barensnood is, totdat Christus in julle 'n gestalte verkry!" Daar is geen ander einddoel en daar kan ook geen ander einddoel vir 'n kind van God se lewe, ‘n gemeente en hul voortbestaan wees, as dat “Christus in ons ’n gestalte” moet kry nie! Hierdie woordjie “gestalte” beteken: "verandering wat in karakter en gesindheid plaasvind sodat daar gelykvormigheid aan Christus kan wees! Hierdie verandering bly sigbaar solank as wat die individu bestaan". Daarom dui dit op 'n lewenslange verandering wat in die kind van God se lewe plaasvind! Dit het hy vir die gemeentes begeer en daarvoor sou hy in "barensnood" wees totdat dit gebeur!

Natuurlik moet ons nou die boodskap na ons geslag deurtrek anders sal dit ons niks baat nie! My liewe broers en susters, daar het vandag "iets" in ons gemeentes en onder die kinders van God verlore geraak. Laat ons nou hier na twee sake kyk:

1. Hierdie vorming na die beeld van die Here Jesus moet plaasvind — 'n mens voel om uit te roep: "Teen hierdie tyd behoort kinders van God al leraars te gewees het!" — maar helaas, die leiers saam met die kudde word deur die winde van die tydsatmosfeer heen en weer geslinger — winde van leringe, die besluiering van mense – terwyl die Woord sê: “gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof …” Kolossense 2:7.

2. Hierdie desperate dringendheid, "barensnood", het in ons huidige geslag verlore geraak en in die plek daarvan het 'n tevredenheid, oorgerustheid, passiwiteit en 'n "dis-maar-hulle-saak” houding gekom.

Ek weet dit is 'n saak wat baie versigtig en met groot omsigtigheid hanteer moet word, want sou dit in die verkeerde hande en sieninge val, gaan almal op die grond met geboortepyne wil rondkrul of die gebedstyd gaan in gil sessies ontaard! Tog wil ek dit in die kind van God se gebedslewe, individueel en gesamentlik, toepas. Om die land, die kerk, gemeentes en kinders van God in hierdie geestelike toestand te sien en te hoor, is iets wat 'n mens in die hart gryp en ons weet dit is net God wat in harte kan werk, wat 'n situasie kan omswaai, wat herlewing kan bewerk — net God wat vandag in ons midde kan werk — en dit raak my so diep dat ek "geboortepyne" oor die saak ervaar! Dit raak my hart so intens dat ek pyn het en voor God vir die saak inmekaarkrimp!

Liewe leser, dit is nou hier waar die uitdaging op ons pad kom. O, vriende, ek moet erken dat ek dit in my lewe nog maar bitter min teëgekom het — slegs in enkele gevalle waar mense persoonlik betrokke is. Ek kon met barensnood bid toe my kind in die kake van die dood lê, maar dit is waar dit geëindig het!

Die volgende gedagtes rondom “barensnood” het my tot 'n diep besinning gebring:

1. Barensnood is noodsaaklik voor/vir 'n geboorte — voor daar lewe kan kom:

Die volgende is ‘n opmerking van 'n verpleegkundige aan 'n dame 'n tydjie voor die geboorte van 'n kindjie: "Ons neem hulle in 'agony'!" (angs). As daar nie barensnood is nie, kan daar nie lewe kom nie — God het dit so gewil! O, vriende, as ek die barensnood-barometer by God se kinders dophou, is daar 'n bekommernis in my hart, want ons vind in vele lewens, gemeentes en bewegings dat "gebed" 'n verlore faktor geword het! Wat nog daarvan om in "barensnood" oor sake te wees!

Ons kom terug na die Skrif in Matt. 5:6: "Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid …!" Ons bid maar flou gebedjies met geen begeerte dat God gebede sal beantwoord nie! Ons noem herlewings in ons gebede, maar is daar smart en pyn in ons harte

– oor die toestand van die Christene?

– oor die toestand van die kerk?

– oor die toestand van ons land?

– oor siele?

Wil ons hê dat die Here in harte sal werk en deurbreek? Dan sal ons die Here moet vertrou om vir ons barensnood te gee! Predikante sal die Here moet vra vir barensnood oor hulle gemeentes; ouers oor kinders, want dit is net die Here God wat iets kan of sal doen. Here, ons wil hê U moet dit doen!!

2. Barensnood is geen maklike weg nie:

Ek het nog nie gehoor van 'n vrou wat skaterlag of grappies maak as sy in barensnood verkeer nie — nooit, sy is in smarte!

O, vriende, dit is ons probleem. Ons gebedstye het om ons gemak begin draai. Ons sit lekker agteroor en bid: "Ag, Here, stuur herlewing; U kan maar herlewing stuur!" Intussen sien ons meer uit na die tee en koekies en lekker kuier na die tyd! Dit is makliker om planne te maak en koeke te verkoop as om bv. Vrydagnag saam te kom en te bid en die Here met benoudheid in ons siele te soek! Die oomblik as dit ongerieflik raak, dan maak ons verskonings. Terwyl ek voorberei dink ek aan 'n boek van A.W. Tozer — "Born after Midnight". Barensnood in jou hart is geen maklike saak nie, dit is harde werk! Is ons bereid om die prys te betaal ?

3. Barensnood is nie net minute nie; dit kan ure beloop:

U weet waarvan ek praat, meneer en mevrou — en hoe moet ons nie hierby leer nie. Ons wil die minimum in gebed insit, maar verwag dat God maksimum sal seën. Ons wil een gebed bid en dan dink ons, ons het dit gedoen! Ons bid net Sondag voor kerk vinnig vir die diens, maar om op die Here te wag, te soek, te stry — hoor ons daarvan ? Maak dit nog deel uit van ons eie gemeentes se roetine? Hoeveel tyd spandeer ons op ons knieë ? Is ons gewillig ?

4. Barensnood berei die liggaam voor vir die geboorte:

In die hele proses word die liggaam vir die geboorte voorberei! Die liggaam van die Here Jesus Christus — die Kerk — word voorberei terwyl ons bid en terwyl ons in barensnood voor die Here is. Ook vir die geboorte en vir die werk wat God wil doen! Waarom gebeur dit dan nie? Wat verhinder dat dit ’n werklikheid word? Wat is die oorsaak en kern van die probleem? O ja, want ek kan mos nie saam met hierdie boetie of sussie stry nie, want daar is iets in my hart teen hom of haar. Ek kan tog nie met so 'n gesindheid in my hart in barensnood verkeer nie of hoe? Ek moet regmaak, nou maak ek dit reg — en die liggaam word voorberei vir 'n werk van God!

My broers en susters, is dit wat teëhou en verhinder dat God werk? Is dit nie hier onder ons nie? O, sê my, moet ons nie vir die Here sê: “Here, ons ken nie barensnood nie, daarom vind ons U nie werksaam nie!” U kan die Here vra dat Hy u "barensnood" sal gee! Neem die vrymoedigheid. Amen.